Toets Preperasie

Wiskunde
Ongeag wat meeste mense dink, bestaan die voorbereiding vir 'n wiksunde eksamen uit twee dele: leer en oefen. Die leer-deel behels die leer van stappe, formules, metodes en uitvangplekke. Dit sal help om deur die jaar notas oor die stappe en uitvangplekke bymekaar te maak en te hou in 'n 'Flip-File' vir eksamenvoorbereiding. Verder moet jy die wiskunde OEFEN! Dit is die belangrikste komponent van voorbereiding. 'n Goeie vraesteloefenboek vir Wiskunde is die Pythagoras boek.

Fisiese Wetenskappe
Weereens ontstaan daar 'n wanpersepsie oor die voorbereiding vir Fisiese Wetenskap. Dit is baie belangrik om eers die teorie te leer. Dit sal weereens help om 'n 'Flip-File' met notas bymekaar te maak gedurende die jaar vir eksamen doeleindes. Uit ondervinding het ek gesien dat leerders dink hulle kan die vrae beantwoord sonder om die teorie eers te leer, maar dan sien hulle nie die vraag of som raak nie as gevolg van die gaping in teorie. Nadat die teorie eers volkome bemeester is, kan vraestelle uitgewerk word. 'n Goeie oefenboek vir Fisiese Wetenskap is die Physichem boek.

Besigheidstudies en Lewenswetenskap
Beide van die vakke kan op dieselfde manier geleer word. Uit ondervinding het ek gesien dat leerders wat self die werk opsom gedurende die jaar dit makliker vind om die werk te leer voor die eksamen. Dit sal gepas wees om hier ook geheue-metodes soos akronieme, rympies, fisiese sintuie, prentjies en liedjies te gebruik om prosesse en stappe te memoriseer. Goeie studiegidse vir die vakke is die Antwoord-reeks.
Rekeningkunde
Voorbereiding vir Rekeningkunde bestaan uit 50% teorie leerwerk en 50% oefenwerk. Die teorie gedeelte wat geleer moet word is die formate, formules, stappe en beginsels. Daarna moet die kennis ingeoefen word. Daar moet veral gefokus word op die beantwoording van vraestelle, asook die tyd limiete wat gegee word vir elke vraag. Ou vraestelle is die beste manier om voor te berei vir Rekeningkunde.

Meganiese Tegnologie en
Siviele Tegnologie
Beide van hierdie vakke word gewoonlik verkeerd gestudeer omdat leerders konsentreer op die beantwoording van somme. In die werklikheid moet daar 'n 70% fokus wees op die teorie en 'n 30% fokus op die somme. Die grootste deel van die vraestel is gewoonlik teorie en omdat hierdie teorie so wyd verspreid is, moet die leerders seker maak dat hulle genoeg tyd aan die teorie gee. Hierdie teorie is gewoonlik beskikbaar in die handboeke wat deur die skool verskaf word, maar die leerders moet veral oplet op wat die onderwyser beklemtoon in die klas, aangesien hierdie teorie en somme meestal gevra word. Verder moet die leerders vraestelle deurwerk en veral fokus op beantwoording.
Ingeneursgrafika en Ontwerp
IGO is glad nie 'n 'leervak' nie, maar 'n vaardigheid wat aangeleer moet word en ontwikkel moet word. Daarom MOET die leerder dwarsdeur die jaar die sketse wat gegee word as huiswerk en klaswerk tot die beste van sy of haar vermoë voltooi, aangesien die vaardigheid slegs hierdeur ontwikkel kan word. Leerders kan (nadat die vaardigheid bemeester is) vraestelle deurwerk vir eksamenvoorbereiding en moet veral fokus op die tyd limiet.